Oor ons

 

Die Naboom Windpompfees is die fees waartydens ons pomp ten bate van gemeenskapsorganisasies in Mookgophong (Naboomspruit).

Die windpomp is 'n tradisionele boerevriend, 'n omgewingsvriendelike stuk gereedskap wat lewegewende water diep uit die aarde opsuig en na die mense, diere en landerye op die oppervlak bring. Hier stoor ons die water in damme vir gebruik deur mens, dier en gesaaide. Wanneer die dam oorloop, vloei die water na ons bure en is daar genoeg vir hulle om in te deel.

Dit is presies wat ons met die Windpompfees doen. Soos die Windpomp, pomp ons fees 'n inkomste vir die instandhouding en groei van die Euphorbia Christelike Skool en sodra ons dam vol is, laat ons dit oorloop sodat ander gemeenskapsorganisasies daarby baat kan vind. 

Van daar die uitbundige uitnodiging aan jou: KOM POMP SAAM!

Die Naboomspruit Windpompfees het in 2008 ontstaan as 'n ekotoerisme fees ten bate van die Euphorbia Christelike Privaatskool in Naboomspruit. Die fees het jaarliks van krag tot krag gegaan en tans word verskeie instansies uit die wins van die Windpompfees ondersteun en befonds. Die organisasies wat ons ondersteun is die Magrietjie Kankerhulpgroep, Sonstraal Skool vir kinders met spesiale behoeftes en die Abraham Kriel Kinderhuis.

Of jy uitstaller, reisende handelaar of besoeker is, jou bydrae help om die dam vol te maak en te laat oorloop. Ons verwelkom organisasies en individue uit die toerisme, landbou, buitelewe, kuns en kunsvlyt en stokperdjie bedrywe en ons ondersteun ons Suid-Afrikaanse kunstenaars met die geleentheid wat ons hulle bied om op die Windpompfees op te tree.

Kom pomp saam!